Waenhuiskrans vissersgemeenskap

Die vissersdorp Kassiesbaai is die kern van die Waenhuiskrans Kulturele Landskap, ’n Graad 1-nasionale terrein. Dit is die enigste oorblywende historiese vissersdorp in Suid-Afrika.

The Arniston 1815-2015 – A village remembers, Marius Diemont

The Arniston 1815-2015 – A village remembers, Marius Diemont

Waenhuiskrans en omgewing het ’n lang en interessante geskiedenis. Skulphope en argeologiese oorblyfsels wys dat mense van minstens 3000 jaar gelede by tye in die omgewing was. Baie eeue later is daar tekens dat die nomadiese swerwers langs die kus ook met skipbreukelinge in aanraking kon gewees het. Die voorlopers van die teenswoordige vissersgemeenskap was vyf gesinne wat omstreeks 1850 na Waenhuiskrans getrek het, moontlik van Swellendam. Teen 1870 het verdere dertig gesinne hul as hengelaars en vissers by Waenhuiskrans gevestig. Toe die grondeienaars die vissers in 1905 aansê om te trek, het die vissers in protes ’n petisie aan die Kaapse goewerneur-generaal gerig. In die daaropvolgende skikking het die grondeienaars tien morge vir ‘n sjieling aand die vissersgemeenskap verkoop. Kassiesbaai is toe op dié grond gevestig. In 1932 is die Wagenhuiskrantz Vissersunie gestig as ’n liggaam om die transportakte van die grond namens die gemeenskap te hou. In die jare sewentig het bewaringsbewuste inwoners van Waenhuiskrans en die vissersgemeenskap kragte saamgesnoer om te protesteer toe plaaslike owerhede die vissersdorp wou sloop en die gemeenskap wou skuif. Hulle het geld ingesamel en die dorp opgeknap.

Beperkings op visvang en ‘n skaarste om vis het algaande ’n kleiner inkomste uit dié bron vir die gemeenskap beteken. Vissermanne in ’n dorpie ver weg van nywerhede het min ander bronne van inkomste. Uit 1 400 volwassenes in die dorp, verdien minder as 100 nou ’n volhoubare inkomste uit vis. Sowat 300 verkry inkomste as huiswerkers of as werknemers by die hotel of by gastehuise. ’n Klein aantal inwoners werk in permanente posisies weg van Waenhuiskrans. Sommige inwoners werk af en toe aan verskeie plaaslike regerings- en ander projekte.