Beplanning & Ontwikkeling

Waenhuiskrans se formele beplanning en ontwikkeling as ‘n dorp begin in 1905. Voor 1905 was daar reeds ‘n paar vakansiehuise, terwyl sowat 30 vissersgesinne hulle omstreeks 1870 in die omgewing gevestig het. In 1905 is ‘n skikking tussen die grondeienaars en die vissersgemeenskap bereik. Daarvolgens het vyf gesinne wat al vóór 1855 in die omgewing was elkeen ‘n erf in die nuwe dorp gekry, terwyk die tien morge wat vandag Kassiesbaai is vir een sjieling aan die vissersgemeenskap verkoop is.

Die dorp is in 1934 en weer in 1970 met nuwe erwe vergroot. Die oorspronklike Arniston Hotel is in 1934 gebou.

Waenhuiskrans is in 1998 by die Kaap Agulhas Munisipaliteit ingelyf.

Die Munisipaliteit wou Waenhuiskrans eers vinnig ontwikkel. Die perspektief was dat ontwikkeling goed is en dat ‘n Munisipaliteit moet probeer om soveel as moontlik nuwe erwe uit te sit om inkomste uit grond verkope en uit belastings te verhoog. Bewaringsbewustes het die Munisipaliteit se planne teengestaan. Omdat die Munisipaliteit se beplanning gebrekkig was kon hul verskeie gedinge teen die Munisipaliteit wen. Die Kaap Agulhas Munisipaliteit het eindelik in Desember 2009 ‘n ruimtelike ontwikkelingsplan vir die streek goedgekeur. Dié plan moet nog in nadere besonderhede vir Waenhuiskrans uitgebrei word.

Die tweede verskil in benadering tussen die destydse Munisipaliteit en bewaringsbewustes was in die aard van die ontwikkeling wat voorgestel is. Die Munisipaliteit wou meer grond omskep in erwe vir vakansiehuise. Die bewaringsbewustes het voorgestel dat die dorp beter ontwikkel kan word met verdigting, binne gepaste riglyne. Hul voorstel is dat verdigting en meer gastehuise op die lange duur beter is vir die ekologie en ook ‘n meer volhoubare inkomste vir die plaaslike gemeenskap sal bied. Vakansiehuise is duur vir ‘n dorp, omdat infrastruktuur vir die dorp ontwikkel moet word, maar net in spitstye gebruik word. Plaaslike inwoners se inkomste is ook swakker in omgewings waar daar meesal net vakansiehuise is.

Uitbreiding in Waenhuiskrans word deur ‘n gebrek aan plaaslike waterbronne en deur die dravermoë van die strande beperk. Die dorp is op duine gebou en die nedersetting het die wisselwerking tussen wind, see en sand verander, sodat Waenhuiskrans se strande lank reeds gelydelik wegkalwe.

Klik om te beskou en af te laai:

Album 20

Waenhuiskrans (+/- 1940)

 

Album 15 (1)

Waenhuiskrans (+/- 1950)

 

IMG_3182

Waenhuiskrans (2009)