Gemeenskaps-

ontwikkelingstrust

The Waenhuiskrans / Arniston Gemeenskapsontwikkelingtrust (WACDT) inisieer en ondersteun projekte wat vaardighede verhoog en volhoubare vooruitgang in die gemeenskap verseker .

Die Waenhuiskrans/Arniston Gemeenskapsontwikkelingstrust is ’n trust vir Waenhuiskrans se mense. Studiehulp aan studente is ’n belangrike projek van die Trust. Byna R4 miljoen is al as studiebeurse vir studente gegee.

Vishuis, ’n projek van die Trust, word vertraag maar kan nog ’n goeie aanwins vir die gemeenskap word. Behalwe Vishuis en die beurse vir studente help die Trust ook die skool, klein ondernemings en organisasies in die gemeenskap.

Sleutelprojekte

Dokumente en Informasie

Ondersteun die Trust

Indien u graag vir ons wil help met ‘n donasie kan u ‘n direkte kontantbetaling maak na ons bankrekening.

  • Rekeninghouer: Die Waenhuiskrans / Arniston Gemeenskapsontwikkelingstrust
  • Bank: Absa (tjekrekening)
  • Rekeningnommer: 933 087 1403

Stel Lizelle Vos in kennis indien ‘n donasie gemaak is bylizellevos@gmail.com

Vir meer inligting, kan enige van die trustees gekontak word.

 

Gereelde Vrae

 

Wat is die doelwit van die Trust?

Die doelwit van die Trust is om mense uit die gemeenskap te help om hulself en die gemeenskap te ontwikkel.

’n Trust is ook ’n wetlike struktuur om geld veilig te bestuur.

Die Waenhuiskrans/Arniston Gemeenskapsontwikkelingstrust is geregistreer by die Meester van die Hoë Hof (Nommer: IT3854/2004) en ook by die Departement van Sosiale Ontwikkeling (042-478-NPO), as ’n niewinsgewende organisasie. Die Trust is verder by die Ontvanger van Inkomste geregistreer (18A en 30). Elkeen van dié liggame het reëls waarbinne die Trust optree.

Die Trust se geldsake word elke jaar deur onafhanklike ouditeurs nagesien, volgens internasionale reëls.

Die Trust kom voorskrifte na en het nog elke jaar ’n skoon oudit van onafhanklike ouditeure gekry. Die Trust se boekhouding en alle uitbetalings word gedoen deur ’n gekwalifiseerde rekenmeester wat streng volgens die professie se algemeen aanvaarde reëls werk.

Die trustees van die Trust (die persone wat verantwoordelik is vir die behoorlike bestuur van die sake en doelwitte van die trust) is André Marthinus, Vivian Lourens, Colin Bird en Hannes van Zyl (voorsitter).

Wanneer ’n trust nie meer aktief is nie, word die bates oorgedra aan ’n soortgelyke organisasie wat die bates ten bate van die trust se begunstigdes sal gebruik. Trustees kan nie voordeel trek nie; net begunstigdes. Die begunstigdes van die Waenhuiskrans/Arniston Gemeenskapsontwikkelings- trust is die gemeenskap van Waenhuiskrans.

Indien u graag vir ons wil help met ‘n donasie kan u ‘n direkte kontantbetaling maak na ons bankrekening.

Trust Account Details:

  • Rekeninghouer:  Die Waenhuiskrans / Arniston Gemeenskapsontwikkelingtrust
  • Bank: Absa Spaarrekening
  • Rekeningnommer: 933 087 1403
Studiebeurse?

Studente of voornemende studente doen by die Trust aansoek om hulp. Tot nou is alle studente wat aansoek doen gehelp. Hulle moet net toelating by ’n universiteit of ander instelling kry. Studiehulp word in die eerste jaar beperk. Dit is die jaar waarin studente moet wys hulle het die vermoë om te kan studeer. In die jare daarna kan studente groter beurse kry. Dit hang onder meer af hoe goed hul presteer en hoe moeilik hul kursus is.

Studente wat al gehelp is het kwalifikasies behaal in onder meer medies, regte, maatskaplike werk, onderwys, sportbestuur, drama, toerisme, finansiële bestuur, programmering, diepseeduik, bouwerk en staalwerk.

Die impak van studiehulp is nie altyd dadelik sigbaar nie. Op die lange duur skep dit geleenthede en nuwe uitsigte vir jong mense wat in komende jare nog hul merk sal maak.

Wat is Vishuis?

Vishuis is beplan as ’n  gemeenskapssentrum, langs die hawe. Dit sal ’n steun wees vir ander ondernemings in die gemeenskap; ’n besoekerssentrum vir die dorp; en ook ’n erfenissentrum. Instellings soos die Kaap Agulhas Munisipaliteit, die Waenhuiskrans Vissersunie en die Waenhuiskrans/Arniston Gemeenskapsontwikkelingstrust het belangrike werk gedoen om Vishuis moontlik te maak.

Opnames wys minder as vyftien persent van besoekers aan die Waenhuiskrans natuurreservaat en die grot besoek ook in die historiese vissersdorp. In die jare van apartheid het stukke oop grond, buffersones, buurte en gemeenskappe van mekaar geskei. Vishuis staan in die ou buffersone en wil ’n brug wees tussen mense, oor buffers uit die verlede.

By Vishuis sal besoekers inligting kry oor ondernemings en bedrywighede in die vissersgemeenskap en ook algemene inligting oor die dorp en omgewing.

Vanuit Vishuis sal daar hulp wees vir bestaande en nuwe klein ondernemings. Meer mense moet ’n kans kry om toerisme en ander ekonomiese geleenthede te benut.

Vishuis sal ook ’n erfenissentrum wees. Besoekers, skoolkinders en inwoners sal kan kyk en luister na opnames van die unieke geskiedenis van die vissersgemeenskap, en oor die see en omgewing.

Saam met die onlangs gerestoureerde Vissersuniesaal en die beplande opgradering van die hawe sal Vishuis kan lei tot verdere projekte vir vernuwing en instandhouding in dié deel van die dorp. Dit kan ’n nuwe groeipunt in die groter Kaap Agulhas skep.

Wie sal vishuis bedryf as dit voltooi is?

Mense uit die gemeenskap kan aansoek doen om die hele Vishuis te bestuur, of net ’n gedeelte van die gebou en dienste. Aansoeke sal oorweeg word deur ’n onafhanklike paneel, wat kundige spesialiste insluit. Die Trust sal vooraf bystand gee vir mense uit die gemeenskap wat ’n aansoek wil indien. Mense wat reeds besighede het kan aansoeke indien, en ook mense wat nog nie tevore ’n eie onderneming gehad het nie. Mense kan as individue aansoek doen, of as ’n groep. Nuwe of ou inwoners kan ’n aansoek indien. ’n Belangrike voorwaarde is dat inwoners uit die vissersgemeenskap in enige aansoek die wesenlike aandeel en ook voordeel moet hê. Vishuis is bedoel om die gemeenskap te help.

Hoe is Vishuis goedgekeur, as daar nou beswaar is?

Die Trust en die Vissersunie het jare gelede ooreengekom om Vishuis te vestig. Die Trust sou dit bou en vestig, op grond wat die Vissersunie beskikbaar gemaak het.

Vishuis is op verskeie openbare vergaderings bespreek en op drie algemene jaarvergaderings van die Vissersunie goedgekeur. Daarna is impakstudies en verwante openbare prosesse deur ’n onafhanklike span konsultante gedoen. Departemente van die nasionale en provinsiale regerings en ook die erfenisagentskappe SAHRA en Erfenis Wes-Kaap het hul goedkeuring aan die projek gegee. Ook die Kaap Agulhas Munisipaliteit.

’n Beswaar, ingedien toe Vishuis al halfpad voltooi is, het beteken dat die bouwerk aan Vishuis vertraag is. Die Munisipaliteit het toestemming van die Kaapse Hoë Hof verkry om die proses van goedkeuring oor te doen, omdat daar onbedoelde administratiewe foute in hul werk was. Die Munisipaliteit het dit gedoen en Vishuis nogmaals goedgekeur.

Wat gebeur vorentoe?

Die Munisipaliteit moet die administratiewe prosesse afhandel. Wanneer Vishuis voltooi is, kan dit ’n brug wees in die gemeenskap. ’n Plek waar mense kan ontmoet, waar besoekers gehelp word, en waar die geskiedenis van die gemeenskap en die omgewing lewendig gehou word. Vishuis is beplan as die eerste fase van groter steun aan die gemeenskap.

Hoe doen ’n mens aansoek vir ’n kontrak by Vishuis?

As Vishuis voltooi is sal aansoeke uit die gemeenskap deur ’n onafhanklikke en kundige paneel oorweeg word. Die Trust sal vooraf bystand gee om mense met hul aansoeke te help. Daar sal vooraf inligtingsessies wees. Daar sal ook eers sessies en gesprekke wees met almal wat reeds ondernemings het. Vishuis moet ’n hulp wees vir almal. Niemand moet benadeel word nie. Almal moet voordeel kry uit die werk wat by Vishuis gedoen word.

Niemand moet benadeel word nie. Almal moet voordeel kry uit die werk wat by Vishuis gedoen word. ’n Voorlopige tenderdokument vir Vishuis is meer as vier jaar gelede al opgestel en versprei. Dit is ’n dokument wat nog oop is vir bespreking en sal genaliseer word eers na openbare sessies in die gemeenskap.

Die voorlopige dokument lyk so:

Vishuis, Waenhuiskrans: Uitnodiging vir aansoeke

  • Lede van die vissersgemeenskap in Waenhuiskrans word genooi om aansoek te doen om dienste vir die gemeenskap en vir besoekers vanuit Vishuis te lewer.
  • Vishuis sal ‘n besoekerssentrum wees waar algemene inligting en spesi ek ook inligting oor dienste en produkte in die vissersgemeenskap, elektronies en op papier, vir besoekers beskikbaar sal wees.
  • Vishuis sal bystand verleen, met bemarking en administratiewe ondersteuning, vir enige bestaande en nuwe onderneming vanuit die vissersgemeenskap wat van dié diens gebruik wil maak.
  • Vishuis sal ‘n erfenissentrum wees waar die argeologiese, ekologiese en menslike geskiedenis van die omgewing hoofsaaklik in elektroniese formaat bewaar word en vir die groter gemeenskap beskikbaar sal wees.
  • Vishuis sal ook vir ‘n suksesvolle aansoeker of aansoekers uit die gemeenskap ruimte en fasiliteite beskikbaar maak om verversings en ligte etes te bedien.

Die uitnodiging om aansoek te doen is vir die volgende dienste:

  • Bestuur van erfenissentrum, sewe dae per week, 09:00-17:00.
  • Bestuur van besoekerssentrum, sewe dae per week, 09:00-17:00.
  • Bedryf van eetplek, vir eie wins, vanuit Vishuis.

Die trustees sal konsultante met tersaaklike ervaring en opleiding aanstel om beskikbaar te wees om die suksesvolle aansoeker(s) met opleiding en advies te help, as dit verlang sou word. Die konsultante sal verantwoordelik wees om die inligting vir die erfenissentrum en vir die besoekerssentrum te verpak, elektronies en op papier, sodat dit in Vishuis vir die publiek beskikbaar is. Die konsultante sal dan verder beskikbaar wees om die suksesvolle aansoekers
op te lei en by te staan om die nodige bestuur te kan doen vir die erfenissentrum, die besoekerssentrum en die aanbied van verversings en ligte etes. Die konsultante sal ook beskikbaar wees vir hulp vir elke ou of nuwe onderneming in die gemeenskap.

Aansoekers kan aansoek doen om al drie dienste/funksies te bestuur, of ook om net een of twee van die funksies te bestuur. Aansoekers kan as individue aansoek doen, of ook as lede van ‘n konsortium, vennootskap of groep.

Aansoekers moet deel wees van die vissersgemeenskap in Waenhuiskrans of moet in die verlede deel gewees het van die gemeenskap. In die geval van ‘n konsortium, vennootskap of groep kan mense van elders betrek word, maar dan moet die beheer steeds in mense vanuit die vissersgemeenskap gevestig wees.

Kriteria vir die toedien van ‘n suksesvolle aansoek sal wees die potensiaal van die betrokke aansoeker of aansoekers om diens van gehalte vir die gemeenskap en vir besoekers te lewer. Aansoeke sal in onderhoude en ander vorms oorweeg word deur ’n tegniese komitee, wat dan ‘n aanbeveling aan die trustees sal doen.

Volledige aansoekdokumente sal verskaf word en ook op ‘n inligtingsessie toegelig word.

Bewaringsgeskiedenis

Kliek hier vir relevante inligting en dokumente.

Besoek Arniston