Vishuis

Die vissersdorp Kassiesbaai is die kern van die Waenhuiskrans Kulturele Landskap, ’n Graad 1-nasionale terrein. Dit is die enigste oorblywende historiese vissersdorp in Suid-Afrika.

Vishuis sal funksioneer as ’n:

  • Besoekersentrum – dit sal ook klein ondernemings in die plaaslike gemeenskap help om geleenthede in toerismete te benut;
  • Erfenissentrum – dit sal elektronies en interaktief toegang verskaf tot die geskiedenis, argeologie en ekologie van die gebied; en
  • Steunsentrum wat ook inkomste sal genereer.

Die idee van die sentrum spruit uit behoeftes wat deur die plaaslike gemeenskap uitgewys is. Die vissersgemeenskap, verteenwoordig deur die Vissersunie, het grond beskikbaar gestel sodat die sentrum gebou kan word. Dié besluit is in ’n deelnameproses en by algemene jaarvergaderings van die Vissersunie bevestig.

Die Waenhuiskrans/Arniston-gemeenskapsontwikkelingtrust het fondse ingesamel vir die voorgenome sentrum nadat ’n aanvangskapitaal deur die Anna Fitzgerald-trust bewillig is. Steun van die Kaap Agulhas Munisipaliteit het verseker dat die sentrum gebou word op grond langs die vishawe, wat ’n stukkie munisipale grond insluit.

Dit het lank geneem om toestemming te kry om die Vishuis te bou. 

Foto by Megan Murtz

Waenhuiskrans Vissersgemeenskap

Waenhuiskrans en omgewing het ’n lang en interessante geskiedenis. Skulphope en argeologiese oorblyfsels wys dat mense van minstens 3000 jaar gelede by tye in die omgewing was. Baie eeue later is daar tekens dat die nomadiese swerwers langs die kus ook met skipbreukelinge in aanraking kon gewees het. Die voorlopers van die teenswoordige vissersgemeenskap was vyf gesinne wat omstreeks 1850 na Waenhuiskrans getrek het, moontlik van Swellendam. Teen 1870 het verdere dertig gesinne hul as hengelaars en vissers by Waenhuiskrans gevestig. Toe die grondeienaars die vissers in 1905 aansê om te trek, het die vissers in protes ’n petisie aan die Kaapse goewerneur-generaal gerig. In die daaropvolgende skikking het die grondeienaars tien morge vir ‘n sjieling aand die vissersgemeenskap verkoop. Kassiesbaai is toe op dié grond gevestig. In 1932 is die Wagenhuiskrantz Vissersunie gestig as ’n liggaam om die transportakte van die grond namens die gemeenskap te hou. In die jare sewentig het bewaringsbewuste inwoners van Waenhuiskrans en die vissersgemeenskap kragte saamgesnoer om te protesteer toe plaaslike owerhede die vissersdorp wou sloop en die gemeenskap wou skuif. Hulle het geld ingesamel en die dorp opgeknap.

Beperkings op visvang en ‘n skaarste om vis het algaande ’n kleiner inkomste uit dié bron vir die gemeenskap beteken. Vissermanne in ’n dorpie ver weg van nywerhede het min ander bronne van inkomste. Uit 1 400 volwassenes in die dorp, verdien minder as 100 nou ’n volhoubare inkomste uit vis. Sowat 300 verkry inkomste as huiswerkers of as werknemers by die hotel of by gastehuise. ’n Klein aantal inwoners werk in permanente posisies weg van Waenhuiskrans. Sommige inwoners werk af en toe aan verskeie plaaslike regerings- en ander projekte.

Potensiaal

Kassiesbaai, die aangrensende hawe en die Waenhuiskrans Natuurreservaat het beduidende toerismepotensiaal, wat die plaaslike vissersgemeenskap kan bevoordeel.

Waenhuiskrans is ’n ontspanningsgebied met wye panoramas, inheemse seevoëls, seisoenale walvisse, kusfynbos, belangrike argeologiese terreine, gestrande skepe en die Waenhuiskrans-grot. Ontspanningsaktiwiteite sluit in visvang, hengel, swem, snorkel, branderry en voetslaan.

As voorbereidende navorsing is plaaslike inwoners in diens geneem oor ’n tydperk van ses maande om ’n voertuig- en voetgangertelling van beweging oor Arniston te doen. Hoewel daar meer as 70 000 besoekers en 13 000 voertuie jaarliks na die natuurreservaat gaan, besoek minder as 10 000 van hierdie besoekers die vissersdorpie. Vishuis en die aangrensende opgeknapte Vissersunie-saal sal ’n vriendelike ingang na die vissersdorpie en verskeie toerismegeleenthede in die dorp tot stand bring. Dit sal help om die fisiese skeiding tussen die vissersdorpie en die vakansiedorp te oorbrug.

Ontwerp en Bou van Vishuis

Welbekende argitek Martin Kruger van KrugerRoos Argitekte in Kaapstad is verantwoordelik vir die ontwerp van die bouplanne van Vishuis.

Gereelde Vrae / FAQ

Wat is die doelwit van die Trust?

Die doelwit van die Trust is om mense uit die gemeenskap te help om hulself en die gemeenskap te ontwikkel.

’n Trust is ook ’n wetlike struktuur om geld veilig te bestuur.

Die Waenhuiskrans/Arniston Gemeenskapsontwikkelingstrust is geregistreer by die Meester van die Hoë Hof (Nommer: IT3854/2004) en ook by die Departement van Sosiale Ontwikkeling (042-478-NPO), as ’n niewinsgewende organisasie. Die Trust is verder by die Ontvanger van Inkomste geregistreer (18A en 30). Elkeen van dié liggame het reëls waarbinne die Trust optree.

Die Trust se geldsake word elke jaar deur onafhanklike ouditeurs nagesien, volgens internasionale reëls.

Die Trust kom voorskrifte na en het nog elke jaar ’n skoon oudit van onafhanklike ouditeure gekry. Die Trust se boekhouding en alle uitbetalings word gedoen deur ’n gekwalifiseerde rekenmeester wat streng volgens die professie se algemeen aanvaarde reëls werk.

Die trustees van die Trust (die persone wat verantwoordelik is vir die behoorlike bestuur van die sake en doelwitte van die trust) is André Marthinus, Vivian Lourens, Colin Bird en Hannes van Zyl (voorsitter).

Wanneer ’n trust nie meer aktief is nie, word die bates oorgedra aan ’n soortgelyke organisasie wat die bates ten bate van die trust se begunstigdes sal gebruik. Trustees kan nie voordeel trek nie; net begunstigdes. Die begunstigdes van die Waenhuiskrans/Arniston Gemeenskapsontwikkelings- trust is die gemeenskap van Waenhuiskrans.

Indien u graag vir ons wil help met ‘n donasie kan u ‘n direkte kontantbetaling maak na ons bankrekening.

Trust Account Details:

  • Rekeninghouer:  Die Waenhuiskrans / Arniston Gemeenskapsontwikkelingtrust
  • Bank: Absa Spaarrekening
  • Rekeningnommer: 933 087 1403
Studiebeurse?

Studente of voornemende studente doen by die Trust aansoek om hulp. Tot nou is alle studente wat aansoek doen gehelp. Hulle moet net toelating by ’n universiteit of ander instelling kry. Studiehulp word in die eerste jaar beperk. Dit is die jaar waarin studente moet wys hulle het die vermoë om te kan studeer. In die jare daarna kan studente groter beurse kry. Dit hang onder meer af hoe goed hul presteer en hoe moeilik hul kursus is.

Studente wat al gehelp is het kwalifikasies behaal in onder meer medies, regte, maatskaplike werk, onderwys, sportbestuur, drama, toerisme, finansiële bestuur, programmering, diepseeduik, bouwerk en staalwerk.

Die impak van studiehulp is nie altyd dadelik sigbaar nie. Op die lange duur skep dit geleenthede en nuwe uitsigte vir jong mense wat in komende jare nog hul merk sal maak.

Wat is Vishuis?

Vishuis is beplan as ’n  gemeenskapssentrum, langs die hawe. Dit sal ’n steun wees vir ander ondernemings in die gemeenskap; ’n besoekerssentrum vir die dorp; en ook ’n erfenissentrum. Instellings soos die Kaap Agulhas Munisipaliteit, die Waenhuiskrans Vissersunie en die Waenhuiskrans/Arniston Gemeenskapsontwikkelingstrust het belangrike werk gedoen om Vishuis moontlik te maak.

Opnames wys minder as vyftien persent van besoekers aan die Waenhuiskrans natuurreservaat en die grot besoek ook in die historiese vissersdorp. In die jare van apartheid het stukke oop grond, buffersones, buurte en gemeenskappe van mekaar geskei. Vishuis staan in die ou buffersone en wil ’n brug wees tussen mense, oor buffers uit die verlede.

By Vishuis sal besoekers inligting kry oor ondernemings en bedrywighede in die vissersgemeenskap en ook algemene inligting oor die dorp en omgewing.

Vanuit Vishuis sal daar hulp wees vir bestaande en nuwe klein ondernemings. Meer mense moet ’n kans kry om toerisme en ander ekonomiese geleenthede te benut.

Vishuis sal ook ’n erfenissentrum wees. Besoekers, skoolkinders en inwoners sal kan kyk en luister na opnames van die unieke geskiedenis van die vissersgemeenskap, en oor die see en omgewing.

Saam met die onlangs gerestoureerde Vissersuniesaal en die beplande opgradering van die hawe sal Vishuis kan lei tot verdere projekte vir vernuwing en instandhouding in dié deel van die dorp. Dit kan ’n nuwe groeipunt in die groter Kaap Agulhas skep.

Wie sal vishuis bedryf as dit voltooi is?

Mense uit die gemeenskap kan aansoek doen om die hele Vishuis te bestuur, of net ’n gedeelte van die gebou en dienste. Aansoeke sal oorweeg word deur ’n onafhanklike paneel, wat kundige spesialiste insluit. Die Trust sal vooraf bystand gee vir mense uit die gemeenskap wat ’n aansoek wil indien. Mense wat reeds besighede het kan aansoeke indien, en ook mense wat nog nie tevore ’n eie onderneming gehad het nie. Mense kan as individue aansoek doen, of as ’n groep. Nuwe of ou inwoners kan ’n aansoek indien. ’n Belangrike voorwaarde is dat inwoners uit die vissersgemeenskap in enige aansoek die wesenlike aandeel en ook voordeel moet hê. Vishuis is bedoel om die gemeenskap te help.

Hoe is Vishuis goedgekeur, as daar nou beswaar is?

Die Trust en die Vissersunie het jare gelede ooreengekom om Vishuis te vestig. Die Trust sou dit bou en vestig, op grond wat die Vissersunie beskikbaar gemaak het.

Vishuis is op verskeie openbare vergaderings bespreek en op drie algemene jaarvergaderings van die Vissersunie goedgekeur. Daarna is impakstudies en verwante openbare prosesse deur ’n onafhanklike span konsultante gedoen. Departemente van die nasionale en provinsiale regerings en ook die erfenisagentskappe SAHRA en Erfenis Wes-Kaap het hul goedkeuring aan die projek gegee. Ook die Kaap Agulhas Munisipaliteit.

’n Beswaar, ingedien toe Vishuis al halfpad voltooi is, het beteken dat die bouwerk aan Vishuis vertraag is. Die Munisipaliteit het toestemming van die Kaapse Hoë Hof verkry om die proses van goedkeuring oor te doen, omdat daar onbedoelde administratiewe foute in hul werk was. Die Munisipaliteit het dit gedoen en Vishuis nogmaals goedgekeur.

Wat gebeur vorentoe?

Die Munisipaliteit moet die administratiewe prosesse afhandel. Wanneer Vishuis voltooi is, kan dit ’n brug wees in die gemeenskap. ’n Plek waar mense kan ontmoet, waar besoekers gehelp word, en waar die geskiedenis van die gemeenskap en die omgewing lewendig gehou word. Vishuis is beplan as die eerste fase van groter steun aan die gemeenskap.

Hoe doen ’n mens aansoek vir ’n kontrak by Vishuis?

As Vishuis voltooi is sal aansoeke uit die gemeenskap deur ’n onafhanklikke en kundige paneel oorweeg word. Die Trust sal vooraf bystand gee om mense met hul aansoeke te help. Daar sal vooraf inligtingsessies wees. Daar sal ook eers sessies en gesprekke wees met almal wat reeds ondernemings het. Vishuis moet ’n hulp wees vir almal. Niemand moet benadeel word nie. Almal moet voordeel kry uit die werk wat by Vishuis gedoen word.

Niemand moet benadeel word nie. Almal moet voordeel kry uit die werk wat by Vishuis gedoen word. ’n Voorlopige tenderdokument vir Vishuis is meer as vier jaar gelede al opgestel en versprei. Dit is ’n dokument wat nog oop is vir bespreking en sal genaliseer word eers na openbare sessies in die gemeenskap.

Die voorlopige dokument lyk so:

Vishuis, Waenhuiskrans: Uitnodiging vir aansoeke

  • Lede van die vissersgemeenskap in Waenhuiskrans word genooi om aansoek te doen om dienste vir die gemeenskap en vir besoekers vanuit Vishuis te lewer.
  • Vishuis sal ‘n besoekerssentrum wees waar algemene inligting en spesi ek ook inligting oor dienste en produkte in die vissersgemeenskap, elektronies en op papier, vir besoekers beskikbaar sal wees.
  • Vishuis sal bystand verleen, met bemarking en administratiewe ondersteuning, vir enige bestaande en nuwe onderneming vanuit die vissersgemeenskap wat van dié diens gebruik wil maak.
  • Vishuis sal ‘n erfenissentrum wees waar die argeologiese, ekologiese en menslike geskiedenis van die omgewing hoofsaaklik in elektroniese formaat bewaar word en vir die groter gemeenskap beskikbaar sal wees.
  • Vishuis sal ook vir ‘n suksesvolle aansoeker of aansoekers uit die gemeenskap ruimte en fasiliteite beskikbaar maak om verversings en ligte etes te bedien.

Die uitnodiging om aansoek te doen is vir die volgende dienste:

  • Bestuur van erfenissentrum, sewe dae per week, 09:00-17:00.
  • Bestuur van besoekerssentrum, sewe dae per week, 09:00-17:00.
  • Bedryf van eetplek, vir eie wins, vanuit Vishuis.

Die trustees sal konsultante met tersaaklike ervaring en opleiding aanstel om beskikbaar te wees om die suksesvolle aansoeker(s) met opleiding en advies te help, as dit verlang sou word. Die konsultante sal verantwoordelik wees om die inligting vir die erfenissentrum en vir die besoekerssentrum te verpak, elektronies en op papier, sodat dit in Vishuis vir die publiek beskikbaar is. Die konsultante sal dan verder beskikbaar wees om die suksesvolle aansoekers
op te lei en by te staan om die nodige bestuur te kan doen vir die erfenissentrum, die besoekerssentrum en die aanbied van verversings en ligte etes. Die konsultante sal ook beskikbaar wees vir hulp vir elke ou of nuwe onderneming in die gemeenskap.

Aansoekers kan aansoek doen om al drie dienste/funksies te bestuur, of ook om net een of twee van die funksies te bestuur. Aansoekers kan as individue aansoek doen, of ook as lede van ‘n konsortium, vennootskap of groep.

Aansoekers moet deel wees van die vissersgemeenskap in Waenhuiskrans of moet in die verlede deel gewees het van die gemeenskap. In die geval van ‘n konsortium, vennootskap of groep kan mense van elders betrek word, maar dan moet die beheer steeds in mense vanuit die vissersgemeenskap gevestig wees.

Kriteria vir die toedien van ‘n suksesvolle aansoek sal wees die potensiaal van die betrokke aansoeker of aansoekers om diens van gehalte vir die gemeenskap en vir besoekers te lewer. Aansoeke sal in onderhoude en ander vorms oorweeg word deur ’n tegniese komitee, wat dan ‘n aanbeveling aan die trustees sal doen.

Volledige aansoekdokumente sal verskaf word en ook op ‘n inligtingsessie toegelig word.