Vishuis

Die vissersdorp Kassiesbaai is die kern van die Waenhuiskrans Kulturele Landskap, ’n Graad 1-nasionale terrein. Dit is die enigste oorblywende historiese vissersdorp in Suid-Afrika.

Vishuis sal funksioneer as ’n:

  • Besoekersentrum – dit sal ook klein ondernemings in die plaaslike gemeenskap help om geleenthede in toerismete te benut;
  • Erfenissentrum – dit sal elektronies en interaktief toegang verskaf tot die geskiedenis, argeologie en ekologie van die gebied; en
  • Steunsentrum wat ook inkomste sal genereer.

Die idee van die sentrum spruit uit behoeftes wat deur die plaaslike gemeenskap uitgewys is. Die vissersgemeenskap, verteenwoordig deur die Vissersunie, het grond beskikbaar gestel sodat die sentrum gebou kan word. Dié besluit is in ’n deelnameproses en by algemene jaarvergaderings van die Vissersunie bevestig.

Die Waenhuiskrans/Arniston-gemeenskapsontwikkelingtrust het fondse ingesamel vir die voorgenome sentrum nadat ’n aanvangskapitaal deur die Anna Fitzgerald-trust bewillig is. Steun van die Kaap Agulhas Munisipaliteit het verseker dat die sentrum gebou word op grond langs die vishawe, wat ’n stukkie munisipale grond insluit.

Dit het lank geneem om toestemming te kry om die Vishuis te bou. 

Foto by Megan Murtz

Waenhuiskrans Vissersgemeenskap

Waenhuiskrans en omgewing het ’n lang en interessante geskiedenis. Skulphope en argeologiese oorblyfsels wys dat mense van minstens 3000 jaar gelede by tye in die omgewing was. Baie eeue later is daar tekens dat die nomadiese swerwers langs die kus ook met skipbreukelinge in aanraking kon gewees het. Die voorlopers van die teenswoordige vissersgemeenskap was vyf gesinne wat omstreeks 1850 na Waenhuiskrans getrek het, moontlik van Swellendam. Teen 1870 het verdere dertig gesinne hul as hengelaars en vissers by Waenhuiskrans gevestig. Toe die grondeienaars die vissers in 1905 aansê om te trek, het die vissers in protes ’n petisie aan die Kaapse goewerneur-generaal gerig. In die daaropvolgende skikking het die grondeienaars tien morge vir ‘n sjieling aand die vissersgemeenskap verkoop. Kassiesbaai is toe op dié grond gevestig. In 1932 is die Wagenhuiskrantz Vissersunie gestig as ’n liggaam om die transportakte van die grond namens die gemeenskap te hou. In die jare sewentig het bewaringsbewuste inwoners van Waenhuiskrans en die vissersgemeenskap kragte saamgesnoer om te protesteer toe plaaslike owerhede die vissersdorp wou sloop en die gemeenskap wou skuif. Hulle het geld ingesamel en die dorp opgeknap.

Beperkings op visvang en ‘n skaarste om vis het algaande ’n kleiner inkomste uit dié bron vir die gemeenskap beteken. Vissermanne in ’n dorpie ver weg van nywerhede het min ander bronne van inkomste. Uit 1 400 volwassenes in die dorp, verdien minder as 100 nou ’n volhoubare inkomste uit vis. Sowat 300 verkry inkomste as huiswerkers of as werknemers by die hotel of by gastehuise. ’n Klein aantal inwoners werk in permanente posisies weg van Waenhuiskrans. Sommige inwoners werk af en toe aan verskeie plaaslike regerings- en ander projekte.

Potensiaal

Kassiesbaai, die aangrensende hawe en die Waenhuiskrans Natuurreservaat het beduidende toerismepotensiaal, wat die plaaslike vissersgemeenskap kan bevoordeel.

Waenhuiskrans is ’n ontspanningsgebied met wye panoramas, inheemse seevoëls, seisoenale walvisse, kusfynbos, belangrike argeologiese terreine, gestrande skepe en die Waenhuiskrans-grot. Ontspanningsaktiwiteite sluit in visvang, hengel, swem, snorkel, branderry en voetslaan.

As voorbereidende navorsing is plaaslike inwoners in diens geneem oor ’n tydperk van ses maande om ’n voertuig- en voetgangertelling van beweging oor Arniston te doen. Hoewel daar meer as 70 000 besoekers en 13 000 voertuie jaarliks na die natuurreservaat gaan, besoek minder as 10 000 van hierdie besoekers die vissersdorpie. Vishuis en die aangrensende opgeknapte Vissersunie-saal sal ’n vriendelike ingang na die vissersdorpie en verskeie toerismegeleenthede in die dorp tot stand bring. Dit sal help om die fisiese skeiding tussen die vissersdorpie en die vakansiedorp te oorbrug.

Ontwerp en Bou van Vishuis

Welbekende argitek Martin Kruger van KrugerRoos Argitekte in Kaapstad is verantwoordelik vir die ontwerp van die bouplanne van Vishuis.

Gereelde Vrae / FAQ

Wat is die doelwit van die Trust?

Die doelwit van die Trust is om mense uit die gemeenskap te help om hulself en die gemeenskap te ontwikkel.

’n Trust is ook ’n wetlike struktuur om geld veilig te bestuur.

Die Waenhuiskrans/Arniston Gemeenskapsontwikkelingstrust is geregistreer by die Meester van die Hoë Hof (Nommer: IT3854/2004) en ook by die Departement van Sosiale Ontwikkeling (042-478-NPO), as ’n niewinsgewende organisasie. Die Trust is verder by die Ontvanger van Inkomste geregistreer (18A en 30). Elkeen van dié liggame het reëls waarbinne die Trust optree.

Die Trust se geldsake word elke jaar deur onafhanklike ouditeurs nagesien, volgens internasionale reëls.

Die Trust kom voorskrifte na en het nog elke jaar ’n skoon oudit van onafhanklike ouditeure gekry. Die Trust se boekhouding en alle uitbetalings word gedoen deur ’n gekwalifiseerde rekenmeester wat streng volgens die professie se algemeen aanvaarde reëls werk.

Die trustees van die Trust (die persone wat verantwoordelik is vir die behoorlike bestuur van die sake en doelwitte van die trust) is André Marthinus, Vivian Lourens, Colin Bird en Hannes van Zyl (voorsitter).

Wanneer ’n trust nie meer aktief is nie, word die bates oorgedra aan ’n soortgelyke organisasie wat die bates ten bate van die trust se begunstigdes sal gebruik. Trustees kan nie voordeel trek nie; net begunstigdes. Die begunstigdes van die Waenhuiskrans/Arniston Gemeenskapsontwikkelings- trust is die gemeenskap van Waenhuiskrans.

Indien u graag vir ons wil help met ‘n donasie kan u ‘n direkte kontantbetaling maak na ons bankrekening.

Trust Account Details:

  • Rekeninghouer:  Die Waenhuiskrans / Arniston Gemeenskapsontwikkelingtrust
  • Bank: Absa Spaarrekening
  • Rekeningnommer: 933 087 1403
Studiebeurse?

Studente of voornemende studente doen by die Trust aansoek om hulp. Tot nou is alle studente wat aansoek doen gehelp. Hulle moet net toelating by ’n universiteit of ander instelling kry. Studiehulp word in die eerste jaar beperk. Dit is die jaar waarin studente moet wys hulle het die vermoë om te kan studeer. In die jare daarna kan studente groter beurse kry. Dit hang onder meer af hoe goed hul presteer en hoe moeilik hul kursus is.

Studente wat al gehelp is het kwalifikasies behaal in onder meer medies, regte, maatskaplike werk, onderwys, sportbestuur, drama, toerisme, finansiële bestuur, programmering, diepseeduik, bouwerk en staalwerk.

Die impak van studiehulp is nie altyd dadelik sigbaar nie. Op die lange duur skep dit geleenthede en nuwe uitsigte vir jong mense wat in komende jare nog hul merk sal maak.

Wat is Vishuis?

Vishuis ekonomiese geleenthede skep, ondernemings in die gemeenskap help en ‘n besoeker- en erfenissentrum wees. Die Vissersunie, en die Trust werk saam om Vishuis moontlik te maak.

Net tien persent van die mense wat die natuurreservaat en grot besoek kom ook na ondernemings in die gemeenskap. Vir jare was woonbuurte deur buffersones oop grond geskei. Vishuis wil ‘n brug wees tussen mense en oor buffers van die verlede.

Besoekers kan by Vishuis inligting kry oor klein ondernemings en gemeenskapsaktiwiteite en ook algemene inligting oor die omgewing.

Vishuis sal ondernemings in die gemeenskap ondersteun, veral met bemarking en administrasie sodat meer mense baat by ekonomiese geleenthede.

Besoekers, skoliere en inwoners sal digitale materiaal kry oor die gemeenskap se geskiedenis en oor die see en die omgewing.

Vishuis, die Vissersuniesaal en ‘n opgegradeerde hawe kan ‘n groeipunt in Kaap Agulhas wees.

Wie sal vishuis bedryf as dit voltooi is?

Mense uit die gemeenskap kan aansoek doen om dienste by Vishuis aan te bied of te bestuur. ‘n Onafhanklike paneel van kundiges sal aansoeke beoordeel. Die Unie en Trust sal mense help om aansoek te doen. Mense kan as individueel of in ‘n groep aansoek doen. Inwoners moet ‘n aandeel in of voordeel uit aansoeke kry. Vishuis bedoel is om die gemeenskap te help.

Hoe is Vishuis goedgekeur?

Vishuis is by talle openbare vergaderings bespreek en is by algemene jaarvergaderings van die Unie goedgekeur. Onafhanklike konsultante het die impakstudies en prosesse van openbare deelname gedoen. Nasionale en provinsiale regeringsdepartemente en die erfenisagentskappe, SAHRA en Erfenis Wes-Kaap, het die projek goedgekeur. Die Wes-Kaapse Regering en die Kaap Agulhas Munisipaliteit het die finale goedkeurings gegee.

Wat gebeur vorentoe?

Die Munisipaliteit het die proses om alle aspekte van Vishuis goed te keur al twee keer herhaal. Een beswaarmaker het die projek lank vertraag.

Vishuis sal ‘n plek wees waar mense ontmoet. Dit sal besoekers help en die gemeenskap se geskiedenis lewend hou.

Hoe doen ’n mens aansoek vir ’n kontrak by Vishuis?

Sodra die munisipale proses weer eens klaar is, kan mense uit die gemeenskap aansoek doen vir dienste en besighede met Vishuis as basis. ‘n Kundige en onafhanklike paneel sal aansoeke evalueer. Die Unie en Trust sal mense met hul aansoeke help.

Die konsep-uitnodiging vir aansoeke is:

Vishuis: Uitnodiging vir aansoeke

Lede van die gemeenskap in Waenhuiskrans word genooi om aansoek te doen om dienste vir die gemeenskap en besoekers by of in samewerking met Vishuis te lewer.

  • Vishuis sal ‘n besoekers inligting oor dienste en produkte in die gemeenskap gee.
  • Vishuis sal bemarkings- en administratiewe ondersteuning gee aan ondernemings.
  • Vishuis sal ‘n erfenissentrum wees waar die argeologiese, ekologiese kennis en geskiedenis van die mense digitaal bewaar word en beskikbaar is.
  • Vishuis sal aan die suksesvolle aansoeker ruimte en fasiliteite gee om verversings en ligte maaltye te bedien.

Die uitnodiging om aansoek te doen bevat dan onder meer die volgende dienste:

  • Bestuur van erfenissentrum.
  • Bestuur van besoekerssentrum.
  • Bediening van verversings, ligte maaltye en verkoop van gemeenskapsprodukte.

Die Unie en die Trust sal konsultante kry om die suksesvolle aansoeker(s) te help.

Aansoekers kan as individueel of as lede van ‘n konsortium, vennootskap of groep aansoek doen. Mense van elders kan deel wees van ‘n konsortium of groep, maar mense uit die gemeenskap moet die beduidende aandeel hê.

Die kriteria vir ‘n suksesvolle aansoek is die potensiaal van die betrokke aansoeker of aansoekers om ‘n goeie diens te lewer. ‘n Tegniese komitee sal aansoeke evalueer en ‘n aanbeveling aan die uitvoerende komitee van die Unie en die trustees doen.

Die formaat vir aansoeke sal in gemeenskapsinligtingsessies verduidelik en bespreek word.