Vissersunie

Die Waenhuiskrantz Visserman Unie (WAVU) bestuur die vissersdorp Kassiesbaai, die kern van die Waenhuiskrans Kulturele Landskap, ‘n Graad I verklaarde landskap.

Sedert 1937 hou die Unie namens die gemeenskap die titelakte vir die grond waarop Kassiesbaai gevestig is. Die Unie besit die grond, en ken persele toe waarop lede van die gemeenskap huise kan bou.  Die Unie is verantwoordelik vir belasting en die koste van dienste wat deur die plaaslike owerhede verskaf word.  Die Unie verhaal dié en ander uitgawes van sy lede.  Die uitvoerende kommitee van die Unie word elke drie jaar verkies. Die huidige voorsitter is Tony Murtz. Ander lede van die komitee is:  Rovina Europa, Adelaide Samery, Eveline Johannes, Daniel Daniels, Quinton Swart, Justin Swart, Colleen Murtz, Vivian Lawrence en Eksteen Lawrence.

Foto deur Shelley Christians.

Restorasie

Die Vissersuniesaal is in 1938 gebou en het oor die jare algaande agteruit gegaan. Skade aan die mure deur water en waterdamp moet herstel word. Wanneer die saal gerestoureer is, sal dit saam met Vishuis dien as ’n opleidingsentrum, hulpbron en aanleg om inkomste te genereer.

Help ons historiese vissersdorp

Arniston / Waenhuiskrans het die enigste oorblywende historiese vissersdorp in Suid-Afrika. Kassiesbaai het sy ontstaan in 1905. Daardie jaar wou grondeienaars die vissersgemeenskap, wat van 1850 daar gevestig is, verskuif om plek te maak vir ‘n vakansiedorp. Met die hulp van ‘n prokureur van Caledon het die vissersgemeenskap ‘n petisie by die destydse governeur-generaal ingedien en na onderhandelinge hul verblyfreg verseker. In die jare sewentig en tagtig van die vorige eeu was daar weer pogings om die vissersgemeenskap te verskuif, toe onder die destydse groepsgebiedewet. Weer eens het die vissersgemeenskap dit reggekry om hul verblyfreg te bevestig en is die historiese dorpie opgeknap en gerestoureer. Die jongste bedreiging vir die vissersgemeenskap is die kwotatoekennings van die laaste jare.

Kassiesbaai is lank reeds ‘n verklaarde nasionale gedenkwaardigheid gewees. Onder die nuwe wetgewing is nou deel van ‘n Graad I Nasionale Kulturele Landskap. Dit is ‘n nasionale bate, wat bewaar moet word. Dit hou ‘n deel van die land se mense en geskiedenis lewendig. Sonder die moontlikheid van voldoende inkomste uit die see sal hierdie bate nie bewaar kan word nie.

Die Vissersunie het ‘n plan om by die ingang van Kassiesbaai huise in die tradisionele styl op te rig vir verhuring aan toeriste. Daar is ook ‘n plan vir ‘n restaurant. Die inkomste uit hierdie ontwikkelings sal gebruik word om historiese geboue in die dorp te bewaar.

Kontak

Eksteen LourensVoorsitter

Sel: (079) 509 3527‬

Epos: vissermanunie@gmail.com

Donasies

Skenkings om die Vissersunie te help om die historiese vissersdorp in stand te hou en te bewaar kan inbetaal word by:

  • ABSA Bank
  • Tak: Bredasdorp
  • Tjekrekeningnommer: 178 095 0001

Verwittig asseblief vir Vivian Lourens (072 633 1894 | vivianlourens@yahoo.com) wanneer u ‘n bydrae maak.