Die Waenhuiskrans Kulturele Landskap is ‘n Graad I Nasionale Erfenislandskap. Dit omvat die vissersdorpie Kassiesbaai, die aangrensende duine en landbougrond; dele van die ou dorp in Waenhuiskrans, insluitend die ou begraafplaas; en die gebied teen die kus af, insluitend die visvywers.
Die vissersdorpie is in 1905 gestig na ‘n skikking tussen die eienaars van die grond en die vissersgemeenskap.
In 1932 is die Waenhuiskrans Vissersunie gestig met die doel om die gemeenskap te verteenwoordig en formeel oordrag te neem van die grond wat in die 1905-skikking bekom is. Hulle vorder belastings van individuele huiseienaars in en sien toe dat belastings aan die betrokke plaaslike owerhede betaal word. Hulle wys ook grond vir nuwe huise toe en administreer die oordragte van bestaande huise. Die Vissersunie hou ook die titelbewys van die grond, maar individuele huiseienaars besit self hulle huise op hierdie grond. Hierdie eienaars mag hulle huise in hulle testamente aan familielede nalaat, of die huise aan ander lede van die gemeenskap verkoop, as hulle sou wou. Alle oordragte is onderworpe aan goedkeuring deur die Vissersunie.
In die 1970’s het die plaaslike owerhede ‘n proses in die vissersdorpie aan die gang gesit onder die voorwendsel dat die belastings op die grond agterstallig was. Hulle bedoeling was eintlik om die erg verwaarloosde dorpie te sloop, die gemeenskap te verskuif en ‘n nuwe residensiele ontwikkeling op te rig wat ‘n uitbreiding van die vakansiedorp sou vorm. Bewaringsbewustes en die vissersgemeenskap het saamgespan om dit te voorkom. Hulle het geld ingesamel om die agterstallige belasting te betaal en om die dorpie op te knap. Die opgeknapte dorpie is in 1984 tot ‘n Nasionale Erfenisterrein verklaar.
Ingevolge nuwe wetgewing is Graad 1 nasionale status in 2003 aan die Waenhuiskrans Kulturele Landskap toegeken. Dit het gevolg op ‘n poging om Dolla’s Downs en die duine van Dolla’s Downs te ontwikkel. Hierdie nuwe residensiele ontwikkeling sou die grootte van Waenhuiskrans verdubbel het. Sterk protes deur die algemene publiek en spesifiek ook bewaringsbewustes, sowel as ‘n gebrek aan voldoende waterbronne het uiteindelik verhoed dat hierdie beplande ontwikkeling voortgaan.
Klik om na te kyk en af te laai: